Ouerbetrokkenheid by egskeiding.

Liewe vriende, nou praat ek met mense wat al verder op die pad gestap het as die jongklomp wat nog strydlustig en avontuurlustig is.  U is die mense wat aan die kant staan waar dit so moeilik is om op te hou huil en is die pyn vir jou kind se pyn baie keer groter as die pyn wat kom na die heengaan van 'n geliefde.  Ek praat van as mens moet toesien hoedat jou kind deur 'n egskeiding gaan of selfs net deur die wroeging van 'n ongelukkige verhouding.  Ons lees elkekeer van die moeders en selfs vaders wat aan Angelique skryf en vra gebed vir hulle kind wat in 'n ongelukkige verhouding staan of wat besig is om te skei.  Ek het selfs gelees van die wat die Here smeek dat hulle kinders se oë moet oopgaan omdat die maat in hulle lewe nie die regte een is nie.

My vriende, met die hoogste respek en onthou ek ken nie elkeen se omstandighede nie en daarom is hierdie ook net opmerkings wat julle wat midde in die stryd staan soms so bietjie agterweë laat.

Ons as kinders van die Here wat ons kinders elke dag aan die Here opdra, moet ook instaat wees om ons kinders te los om die lewe te leer ken.  Ons huil oor die keuse wat ons kind gemaak het vir 'n lewensmaat, en ons probeer altyd die beste vir ons kinders.  Dis juis hierdie rede dat ons soms te gretig is om te oordeel.  Ek sou wou vra hoe hanteer die Vader ons as sy kinders.  Ons wat daagliks in gesprek met Hom is, moet eerder probeer sien hoe hanteer HY ons en dan sommer leer uit die metode.  Die Vader is altyd daar om na al ons klaagliedere te luister en dan druk Hy ons teen sy bors.  Hy troos ons en is daar vir 'n oor.  Maar dan sê HY ook, "ek het vir jou die geleentheid gegee om jou eie keuses te maak, kyk na jou keuse en ervaar die konsekwensies.  Besluit nou wat jy wil maak."  Ons taak is dus om te luister na ons kinders, hulle moed in te praat en hulle te gee wat hulle nodig het.

Vermy opinies oor jou kind se lewensmaat en vra waar kan jy help.  Moenie geld gee as die skoonkind die geld net sal uitmors nie.  Moenie help kinders oppas as die skoonkind nie sy/haar plig kan nakom nie.  Moenie saampraat as die kind kom galbraak nie.

Wat jy wel moet doen: As jou kind kom vra waar om te oornag, gee jou huis; As hulle vra vir kos, gee dit sonder om vra te vra;  As hulle vra vir name van prokureurs, help uitvind sonder om te vra hoekom; As hulle vra oor wat hulle moet doen, dan moet julle leiding gee oor hoe hulle die verkeerde keuse wat hulle gemaak het sal verstaan en dan die regstellende keuses moet maak - sonder om die maat te veroordeel.  Kyk wat gebeur as julle saampraat:

Die kind kom in 'n nuwe spanning.  Hulle wil skei om julle te wys hulle luister na julle, of dat hulle nou na julle raad wil luister.  Hulle sit in die spanning van wat moet hulle doen, hulle wil hulle maat nie verloor nie, want hy/sy is soms so oulik en hulle was lief vir mekaar eens op 'n tyd.  Maar bloed is dikker as water en hulle wil julle ook nie teleurstel nie.  Daardie spanning is baie erg.  Hulle blik na die wêreld is een van luister net na my en praat selfs saam,  hoor hoe hartseer is ek en voel soos ek voel.  Nou dis daar waar die probleem lê:  Luister, moenie saampraat nie, en moenie saam veroordeel nie, maar wys dat jy verstaan en dat jy die eens op 'n tyd groot liefde se optrede ook verstaan, nie goed of afkeur nie.  Kyk of jy met die skoon kind kan praat.  Vra net vrae en moenie wil regmaak nie.  Stel self vas wat aangaan, hoor ook die anderkant.  Jou kind is dalk nie so soet soos wat jy gedink het nie.

Indien jou kind wel betrokke is by 'n man wat haar slaan en wat haar dreig en wat haar mishandel, en dalk nog die kleinkinders ook, vind dan uit wat jy kan doen om jou kind te beskerm wanneer sy die huis wil verlaat.  Skep vir haar 'n ruimte waarin sy normal kan funksioneer terwyl die man verhinder moet word om naby haar te kom.  Gaan woon selfs 'n rukkie by haar in haar huis as sy die huis moet behou of luister na die raad van die prokureur.

Sien jouself eerder as die verlengstuk van jou kind om haar/hom te help om hulle geluk te kan bewerk, jy was dit toe hulle nog kinders by jou in die huis was.  Troos en bemoedig. Probeer om te oordeel of die kinders regtig moet skei of is jou kind nie dalk net besig om iemand te soek wat na hulle moet luister sonder om aksie te neem nie.  En hou nie op bid nie!!!!!


 

++++++++++++

 

                                                    Egskeiding, die realiteit.

Op 'n stadium in ons lewe kom ons dalk by die punt waar ons besef dat ons nou ver genoeg gegaan het en hard genoeg probeer het en dat al die aanduidings daar is dat ons ons huwelik nie meer kan red nie. Dis oor hierdie tyd wat ek 'n paar woorde wil sê:

Eerstens hoe lyk so 'n tyd:
Dis 'n tyd waarin sommige glo daar is nog hoop terwyl die lewensmaat reeds sy goed gevat en geloop het. Of dis so erg in die huis dat julle lankal weet van die derde persoon en dat die maat dit al begin openlik erken dat die verhouding bestaan en dat dit net 'n kwessie is dat jy moet oorgee en alles los en selfs van die planeet moet verdwyn om plek te maak vir die nuwe persoon in die huis. Dit kan ook wees dat daar nie 'n derde persoon is nie, maar dat die huwelik lelik is en dat die kinders swaar kry en dat almal huil en bloei en wens dat alles moet verby kom. Een van die twee in die verhouding sal nog wil aanhou met die verhouding om die ellusie van dat dit dalk nog kan regkom instand te hou. Ek het hom dan so verskriklik liefgehad 20 jaar terug, hoe kan ek dit sommer net so opsê. Hoe kan ek, dit wat ons oor soveel jare saam aan gebou het, sommer net los en alleen die lewe ingaan en alleen oud word. Ellusies is seker die grootste rede vir die meeste hartseer in 'n egskeiding.

Tweedens oor hoe voel mens:
Ek het al so bietjie daaraan geraak deur te sê dat die partye verskillend voel oor die saak. Daar is min paartjies wat opbreek waar hulle ooreenkom om die huwelik saam te beëindig en saam die saak te bespreek en saam die bates regverdig verdeel en al die dinge wat daarmee gepaard gaan. Daar is altyd een wat regtig nie mooi begryp wat regtig besig is om te gebeur nie en glo dis iets van 'n verbygaande aard, of dis nie regtig nie. Die ander party het die saak of baie deeglik of emosioneel baie vinnig beplan en is normaalweg deur iemand aangepor om tot die daad oor te gaan.

Nou die persoon wat nie mooi weet wat hom tref nie, of die een wat die swakkere een in die verhouding was, is normaalweg die een wat nou aan die kortste end trek. Hier is nie 'n spesifieke geslag wat oor die ander heers nie, soos 'n man wat sy vrou verwoes en dan met alles anderkant uitstap nie. Ek weet van vrouens wat dit ook maar met hulle mans gedoen het. Ek dink eerder dit gaan hier oor die een wat verras word, of die een wat nie wil skei nie, of die een wat met die ellusie leef dat dit weer sal oorgaan en dan is alles weer reg, dis met hulle wat ek nou graag tien woorde wil deel:

Vereers moet julle weet dat julle kan verloor as julle nie nou na my luister nie. Ek het al baie trane sien stort oor mense wat glo liefde oorwin alles en dat prokrastinasie die enigste uitweg is om jou volstruis kop toe te hou. Daar is hulp vir julle. Daar is selfs Egskeidingsklinieke waar julle hulp kan kry om die skikkings-ooreenkoms op te stel of die bestaande een te ondersoek voordat die regter dit goedkeur. Gaan praat met iemand wat weet (Ek kan julle verwys of ek kan self help.) MOENIE GLO WAT JOU MAAT JOU VERTEL NIE, ONTHOU HULLE VEG NOU OM SOVEEL UIT JOU TE KRY AS MOONTLIK.

Ons gesinsadvokate gee vandag as standaard die kinders vir die vrou. As die man die kinders wil hê, lê die bewyslas by hom om aan die hof te bewys die vrou is nie instaat om die kinders 'n normale opvoeding te kan gee nie. Daar sal ondersoek op ondersoek volg en die een verslag na die ander om die vrou onbekwaam te sertifiseer. Dit kos baie geld en min mans het regtig die lus of die geld om so-iets te doen. Die vrou wat regtig nie instaat is om na hulle kinders te kyk nie, weens hulle sosio-maatskaplike probleem sal dit ook dadelik erken en sal ook maklik die kinders afstaan. Vrouens wat agter 'n man aan wegloop, kom ek agter, vat ook selde hul kinders saam.

Moenie emosioneel deur die maat verwoes word terwyl jy lankal hulp kon kry deur net die huis te verlaat en by vriende of ouers te gaan bly nie. Dis 'n miete as jy huis verlaat dat jou regte minder word. As jy as vrou jou kinders wil behou en jou man is 'n misbruiker en jy hardloop weg sonder jou kinders dan gaan jy sukkel om jou kinders te behou, omdat die gesinsadvokaat sal redeneer jy dink die misbruiker was instaat om na jou kinders te kyk terwyl jy weg was. Jy het dan 'n dom skuif gemaak. 

Dis net so 'n miete dat as hy jou dagvaar dat jy dan beter af is, of selfs andersom. Jy gaan betaal maak nie saak of jy aan die ontvang kant of aan die uitdeel kant staan nie. As jou maat dan besluit om die saak uit te rek en jy moet wag, vergeet daarvan en gaan self voort met die saak en handel dit af. Dit is finansieel tot jou voordeel want dan word die boedel gouer verdeel en die onderhoud land ook gouer in plek.

Wat die huis inhoud aanbetref is dit 'n ander saak. Dit gaan gewoon om die wyse waarop jy getroud is. Ek stel voor dat as u vrae het dat u dit maar stuur en dan sal ek probeer om dit te beantwoord, of gaan raadvra tot ons die regte antwoord het, want oor die tema kan ons baie praat en selfs boeke skryf. Kom ons stop vereers hier.

++++++++++++

 

Lesers kan gerus vir ons skryf oor hierdie onderwerp en ook raad, advies, of hulp vra by die volgende e-pos adres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. . Alle briewe sal deurgelees word, en Christo se antwoorde sal geplaas word op ons boetieblad. www.egafrikaanseboetie.com.  Neem net kennis dat Christo nie persoonlik briewe beantwoord nie en dat sy antwoorde later vir almal beskikbaar sal wees, dus indien u privaatheid wil beskerm moet u dit vir ons noem asseblief.

 

Ons sal op 'n latere stadium die vervolg hiervan plaas.

 

Terug na Egafrikaans